Heerlike vrugtekerrie wat perfek is vir die koue wintermaande en ons het 'n maklike resep uit Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker se kookboek, Kook saam Kaaps.
Bestanddele:
Bietjie kookolie
1 ui, gekap,
6 boudjops
1 steranys
3 kaneelstokkies
5 wonderpeperkorrels
5 ml borrie
20 ml kerrie
2 groen papajas, geskil
2 groen veselperskes, met skil
Metode:
1. Verhit die olie in 'n kastrol en braai die ui en tjops tot amper gaar.
2. Kap die steranys en kaneelstokkies fyn. Voeg dit by die tjops.
3. Roer die wonderpeper, borrie en kerrie by die tjops.
4. Sny die papajas en veselperskes in klein blokkies.
5. Hou dit eenkant.
6. Lat die kerrie vir ongeveer 1 uur stadig prut met die deksel op.
7. Voeg die vrugte by kerrie 15 minute voor die kooktyd verby is.
Opdiening
Bedien saam met gewone rys of skroei-rys wat gemaak word deur gaar rys saam met droë klapper in 'n pan te rooster.
Hierdie resep lewer sowat 6 porsies.