Die dis lewer sowat 4 porsies
Bestanddele:
1,4 kg hoenderporsies
5 ml sout
2 ml varsgemaalde swartpeper
60 ml kanola-olie
1 ui, grofgekap
50 ml tamatiepasta
2 ml knoffelvlokkies
225 ml rooiwyn
225 ml witwyn
60 ml brandewyn
150 ml room
pietersielietakkies vir garnering
Metode:
1. Geur die hoenderporsies met die sout en peper.
2. Verhit die olie in 'n swaarboomkastrol en verbruin die hoenderporsies alkante. Skep die hoender uit en hou dit eenkant.
3. Soteer die ui in dieselfde olie totdat dit sag en ligbruin is. Skep die ui by die hoender en hou dit eenkant. Giet die oortollige olie af.
4. Roerbraai die tamatiepasta ongeveer 2 minute lank.
5. Voeg die knoffelvlokkies, hoender en ui by en meng dit goed.
6. Meng die rooiwyn, witwyn en brandewyn en voeg dit by die hoender.
7. Plaas die deksel op en stowe die hoender ongeveer 1 1/2 uur lank totdat die hoender sag is. Voeg die bietjie warm water by indien die bredie gedurende die gaarmaaktyd droogkook. Skep die hoenderporsies uit in 'n warm opdienskottel.
8. Roer die room by die sous en verhit dit tot deurwarm. Dit moenie kook nie.
9. Giet die sous oor die hoender en garneer met pietersielietakkies.
Bedien dit warm saam met 'n slaai.
* Resep uit: 50 Eenpot Geregte deur LAPA UITGEWERS.